SAAM OP PAD MET GOD
| BLOG : : Boodskap | ||||||||
soos jyDatum: 2009-03-21 20:49:41 Hierdie blog is nie vir my ‘n plek om te preek nie. Ek dink mense kry dalk genoeg daarvan op ‘n Sondag. Dit is dalk eerder ‘n plek om saam te gesels oor preke, die Bybel... selfs beter – oor God. Dit is ook eerder ‘n plek om te gesels soos ‘n gewone mens, wat ek ook inderdaad is tot sommige se verbasing. ‘n Plek om dinge te sê waaroor ek dalk later kan spyt wees, ook soos ‘n gewone mens. ‘n Plek om hardop te dink soos ‘n gewone mens. ‘n Plek om ‘n klip in die bos te gooi en te kyk wat dan uitspring. Kom ons gooi dan nou maar ‘n eerste terwyl ek besig is... Ek is daarvan oortuig dat die gemiddelde mens ‘n redelike skok sal kry as hulle besef hoe predikante ook maar net gewone mense is. Om een of ander rede wil mense predikante op ‘n troontjie sit. Daar is seker edel redes. Maar ek dink nie beter redes hoekom ‘n enkel ma van drie dan nie ook op ‘n troontjie gesit moet word vir haar daaglikse heldedade nie. Ons al twee probeer maar net. Ek dink natuurlik as jy met ‘n predikant se ma sou gesels dat jou ore ook van jou kop sou kon afval oor al die dinge wat jy sou hoor. Hoe sy al haar seun uitgevang het dat hy sy broodkorsies bo-op die kassies in die kombuis slinger om hulle uit sy bord te kry. Jy sal hoor van die ‘nougat bar’ wat hy by ‘Rebel Farmers’ se groentewinkel op Hendrik Potgieter-weg gesteel het. Jy sal hoor van die keer toe sy by die hoof van Hoërskool Roodepoort moes gaan pleit om hom nie van die leerlingraad af te skors oor sy mishandeling van arme standerd sessies nie. EMhh...wag... ek het ‘n oomblik gehuiwer om presies te sê wat ek gedoen het, maar in die roekelose gees van die oomblik sal ek tog sê: Ek het een van die kêreltjies by ‘n sport byeenkoms ‘lightsout’ geslaan ...met ‘n ‘headbutt’. Hy het later eers in die noodhulp tent bygekom. ’Skies Chris Sadie. Dalk wil jy nie hê ek moet aangaan nie omdat ek op hierdie manier besig is om die droomwêreld in jou kop onherroeplik skade aan te doen. Maar dalk is dit nodig dat ons met ‘n groot stuk realisme uit ‘n koma wakker word en ernstig eerlik raak oor God se onverstaanbare genade... ook vir my... net ‘n mens soos jy.
Antwoorde
Re: soos jy
Datum:2009-04-01 13:26:04 Dankie Griffel dat jy ‘n paar dinge met ons deel wat in jou lewe verkeerd gegaan het. Wat ek dink is dat jy duidelik uit jou foute geleer het en verder het jy ook die verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. As enige iemand jou insetsel lees sal hy of sy sien dat jy nie spog oor wat jy verkeerd gedoen het nie maar ook berou toon en waar nodig verskoning vra. Die punt wat ek ook wil maak is dat ons soos jy elke dag ook foute maak en daaruit leer. Iewers in Spreuke staan dat ‘n mens nie meer van jou self moet dink as wat werklik nodig is nie. Dit geld natuurlik ook vir predikante, ouderlinge,diakens en vir enige gewone lidmaat soos ek en jy, selfs ook vir “celebrities”. Ek dink Predikante word in sommige opsigte net soos “celebrities” gehanteer deur die gemeente of deur ons samelewing. Hieronder haal ek ‘n paar gedagtes aan wat Koos Kombuis volgens oorlewering geskryf het oor "celebrities" (Ek het hier en daar ‘n bietjie gesensor) : Koos skryf soos volg: “Lyk my dis soms maar moeilik om 'n Afrikaanse celebrity te wees. Ek is baie bly ek is nie een nie. Ek bedoel, ek is nie mooi of sexy of interessant soos die meeste Afrikaanse celebrities nie. Ek speel nie goed rugby nie, ek het geen buite-egtelike affairs nie, ek besit geen onder-broeke met gaatjies in nie en volgens die dokter wat onlangs 'n kolonoskopie gedoen het, makeer my dikderm niks nie. My lewe is boring. Selfs die enkele geraamtetjies wat ek in my kas wegsteek, is sulke ou kleintjies. Nie eens die Son stel in hulle belang nie. Ergste van alles, as iemand more 'n verbode seksvideo van my iewers publiseer, sal niemand dit glo nie. Allermins my vrou. Sy sal haar doodlag. Sy, meer as enigiemand anders, besef dat ek nie meer 'n clue het hoe om jong girls op te chat nie. Ai, ek is so jaloers op Afrikaanse celebrities. Hulle jaag die grootste “twak aan” en dan like almal hulle nog. Ja! Volgens my haarkapster het ‘n “oud politikus” op een aand R70 000 geblaas in Sun City. Hoe de duiwel doen mens dit? Met room service? (Sover ek weet, mag mens nie op skuld dobbel nie. Of is die reels verander sedert ek in 1979 my laaste R20 verloor het in die Wild Coast Sun?) En, soos politici, jaag en vlieg hulle orals rond en doen eenvoudig net waarvoor hulle lus is, en as Rapport of Sondag of Huisgenoot hulle uitvang, skryf hulle 'n boek daaroor en maak geld daaruit. Daar is eenvoudig geen manier om van hulle ontslae te raak nie. Hulle het nie eens die ordentlikheid om self Nieu-Seeland toe te trek nie! Hulle bly, en bly, en bly. Hulle leef vir ewig! Hulle is soos Zuma en Mugabe! Maar ek wil die nuwe redakteur van Rapport nietemin raad gee. Hou op fokus op ‘n bekende celebrity se sogenaamde seksvideo. Veral aangesien dit dalk nie regtig hy was nie (nou wie was dit, Tom Cruise?). Want dit, dink ek, is die eintlike probleem wat baie mense met party Afrikaanse celebrities (en met feitlik alle Suid-Afrikaanse politici) het. Dis nie soseer dat hulle lieg en bedrieg en steel en koppies tee rondgooi nie, maar omdat hulle dink hul celebrity-status behoort hulle te beskerm teen die gevolge van hul eie dade. Die gewone reels van ordentlikheid, eerlikheid, en doodplein goeie maniere geld eenvoudig nie vir sulke ouens nie. On second thoughts, miskien moet ek ook een probeer word”
Re: soos jy
Datum:2009-03-27 15:55:55 Ek dink dit is nodig om sulke dinge te hoor want partykeer ontmoedig predikante 'n mens net wanneer hulle dink hulle moet hierdie super voorbeelde wees, eerder as wat hulle jou bemoedig deur te erken dat hulle nes jy elke dag uit genade lewe.
Re: soos jy
Datum:2009-03-27 11:58:42 Dit is iets waaroor ek ook al so baie gedink het, hoekom mens so maklik 'n Dominee en selfs ander mense, jou sport helde, TV sterre daar op 'n troontjie plaas en dink God is liewer vir hulle. En ek het so paar jaar terug besef, dat almal, elke liewe mens gemaak is in die beeld van God, nie net Dominees (of jou helde) nie. Dus is elke een van ons gelyk. Broers en Susters. Maar hoe ek voel is dat al is ons almal gelyk, het elkeen van ons gawes gekry, dus sal 'n dominee se gawe wees om vir ons meer te leer, diepper te leer van God se woord want God het hom geroep om dit te wees! Maar tog bly hy 'n mens, en dus is dit moointlik om foute te maak soos dit vir my en jou en almal moontlik is. Daar is net een mens wat nie foute gemaak het nie en dit is Jesus! Dit is maar net my opinie.
Re: soos jy
Datum:2009-03-24 21:41:48 ek dink jy is reg . nee ek weet jy is reg predikante is n mens net soos ander mense .ja hy preek die WOORD VAN GOD. gaan kyk na sy lewe is dit nie sonder stress nie stress oor wat by die huis gebeur by die kerk by sy gemeente lede . dit is n harde werk wat ek die grootste respek voor het .ek dink aan my oom my oupa vriende wat predekante strekte hendrik |
||||||||


