GEREFORMEERDE KERK BROOKLYN

SAAM OP PAD MET GOD

BLOG : : Boodskap

Eredienste in ander gemeentes

Datum: 2010-06-04 10:42:56

Ek weet nie of ‘n mens hier mag iets sê oor ander gemeentes se manier van eredienste hou nie, maar ek doen dit nou maar met die nodige respek.
Laas Sondag oggend is ek toe saam met die familie kerk toe in ‘n ander Gereformeerde gemeente in ‘n ander dorp. My indrukke was soos volg van die erediens:
Die erediens het begin sonder om die gemeente te môre te sê met” Die Kerkraad het die volgende afkondigings.” Die dominee wou seker tyd spaar.
Die Psalms is almal baie stadig gesing deur die Gemeente, so asof dit ‘n begrafnis is.
Die gebede van die Predikant tydens die erediens het vir my gevoel asof ek in ‘n hof staan en al my oortredings word een vir een aan my voorgehou aan die regter en die staatsaanklaer (Predikant) pleit sommer namens my skuldig ook. (Ek moet aan die ander kant tog bely dat ek aan sekere klagtes wel skuldig is.) Maar sjoe!
Wat die preek betref dink ek tog by nabaat dat dit ‘n goeie preek was maar dit was 5 temas in een preek en hopeloos te lank (+/-1 uur 5 minute net die preek alleen). Ek kan nie solank konsentreer nie ek is jammer. Elke sin wat die predikant gepreek het was ‘n ernstige duidelike verduideliking of vermaning sonder enige emosie, net die harde feite waarmee jy as sondaar gekonfronteer word. Dit het soos ‘n sweepslag elke keer getref. (Ek het dit seker nodig gehad.) Die predikant het, seker tereg ook,, die regering, sokker en rugby aangevat. Maar gelukkig het ek nie vir die regering of sokker gestem nie. Hy het darem niks gesê dat die Bloubulle gewen het nie.
Alhoewel ek begrip en respek het vir ander gemeentes se sienings en gebruike tydens eredienste is ek regtig bly om in ‘n gemeente soos Brooklyn te wees waar daar darem nie elke Sondag slae van die Preekstoel af uitgedeel word nie, maar waar ons die genade en liefdevolle teenwoordigheid van ons Skepper kan ervaar.


Antwoorde

Re: Eredienste in ander gemeentes

Datum:2010-06-24 08:09:18

Ek stem saam, ek is baie gelukkig in Brooklyn, en voel regtig ook deel van 'n lewendige gemeente! Dit is wonderlik om deel te wees daarvan. 
Gelukkig ook dat mens self kan kies na watse kerk jy wil gaan, ek glo mens moet gaan waar jy voel God jou wil hê en jy werklik jou geloof kan uitleef.  Ek het daarom ook baie respek vir ander gemeentes en kerke, ons almal verskil, so ons moet ook die kerklike verskille aanvaar, ons glo almal immers in die selfde 3-Enige God. 
Ek dink ons kan ook defnitief bid vir ander kerke (gereformeerd sowel as ander, en ook vir ons eie gemeente) dat waar hulle ookal is, hulle regtig in Christus ook ware kerk sal wees, en ook vir die leeraars dat hulle instrumente in God se hand sal wees.