GEREFORMEERDE KERK BROOKLYN

SAAM OP PAD MET GOD

BLOG : : Boodskap

'n Vraag oor Hemelvaartsdag en Kersdag???

Datum: 2009-05-21 13:13:07

Ek hoop Griffel of een van die wyse manne in Brooklyn kan help? 

Ek lees in Beeld vandag dat kerke se dat hemelvaart nie 'n godsdienstige vakansiedag hoef of behoort te wees nie. Volgens Ds Aukamp (van die gereformeerde kerk) gedenk ons kerkverband die gebeurtenis, nie die dag nie, as ek reg verstaan. (Is hy reg?)

My vraag is hoe moet ons die dag sien (hemelvaartsdag) as christene en wat is die GKSA se amptelike standpunt oor hemelvaartsdag? Moet dit as 'n Sondag onderhou word? 

Tweedens, moet is Kersdag as 'n sondag gedenk word?  

Dankie

 


Antwoorde

Re: 'n Vraag oor Hemelvaartsdag en Kersdag???

Datum:2009-05-29 11:30:19

Dit is so – ons gedenk die gebeurtenis en nie die dag nie. Eintlik is dit so in die geval van al die Christelike feesdae omdat ons nie regtig eers met sekerheid weet presies watter dag en datum die dinge eeue terug gebeur het nie. Dis dalk bietjie ontnugterend maar dit is die waarheid. Daar is teorieë en hipoteses en dalk ‘n ‘nader wees aan die regte tyd van die jaar’ as verder wees, maar nie dag en datum nie. Tyd en hoe ons dit tel en meet is in elkgeval deur ons uitgedink.
 
Met dit gesê wil ek bysê: Niks móét nie. Ons lewe in die vryheid van Christus. Ek persoonlik hou vas aan Romeine 14:5 asook Gal 4:10 en die konteks daarrondom om my onder niks anders in te laat dwing as Christus wat van my gehoorsaamheid aan die wet vra en ‘n slaaf daarvan maak nie – wat vir my ‘n plesier is.
 
Ons moet versigtig wees om nie goeters self uit te dink en op ‘n manier aanneem dat ons beter Christene is of dat die Here op een of ander manier meer van ons gaan hou as ons die dag soos ‘n Sondag vier nie. En hier is ook ‘n hele ander gesprek of ons Sondag die Joodse Sabbat behoort te wees of nie. En oor die vervulling van die Sabbat as rus in Christus van sonde, soos ons Heidelbergse Kategismus die klem laat val. Hebreërs se denke hieroor is ook BAIE interessant en Sinode 2003 het ‘n fantastiese baanbrekende besluit hieroor geneem wat baie Sabbat-ondersteuners ongelukkig gemaak het. Vir ‘n groter stukkie ontnugtering het die vroeë Christene op Sondae saamgekom, en dit was ‘n gewone werksdag van die week!... en niemand is getug nie. ;-)
 
Ek is wel daarvan oortuig dat die gebeure soos deur ons as Christene herdenk werklik in die geskiedenis plaasgevind het. Ek is oortuig van hulle betekenis-waarde en is oortuig dat dit gevier en herdenk moet word. Maar belangriker as die datum en wat ons op die dag doen of nie doen nie... is of die betekenis van daardie dag elke ander dag van ‘n mense se bestaan raak en verander.
 
Oor die GKSA se offisiële standpunte weet ek ongelukkig nie veel nie.
 
Hieronder is info oor die feeste en datums wat ek op allerhande plekke gekry het en naastenby reg lyk.
Griffel
 
 
Paasfees se datum wissel daarom van jaar tot jaar omdat dit volgens die fases van die maan bereken word. Volgens die Bybel was Jesus se dood en kruisiging met die Joodse Pasga; daarom het die vroeë kerk Paasfees rondom dié tyd gevier. Die Pasga is egter nie bereken deur datums soos ons dit ken nie maar deur die Joods kalender wat met die maanstande werk. Die Christelike Paassondag val dus altyd op die eerste Sondag na die eerste volmaan ná die Suidelike Halfrond se herfsewening.
 
Van Paasfees af word 40 dae getel om Hemelvaart te vier, en 50 dae afgerond tot die naaste Sondag om Pinkster te vier, soos wat die Bybel ook deurgee die geval was met die gebeure.
 
Kersfees is ‘n perd van ‘n ander kleur. Christus is nie gebore op ‘n spesifieke Joodse feesdag waarvan ons berekeninge kan maak nie.
 
Gegee die inligting wat ons wél in die Bybel kry, is dit egter hoogs onwaarskynlik dat
Jesus wel op 25 Desember gebore is. Volgens Lukas se betroubare historiese getuienis
(Luk. 1: 5) was priester Sagaria uit die diensgroep van Abia. As dit nou vergelyk
word met die indeling wat in 1 Kronieke 24: 10 gegee word, was Abia se priesterlike
groep verantwoordelik vir die agste ordediens in die tempel, wat volgens berekening vanaf die Joods kalender na ons huidige kalender in die maand Julie sou wees. Dus: Sagaria het tydens sy diensbeurt (Luk. 1: 8) in Julie die boodskap van die engel van die Here ontvang dat sy vrou, Elisabet, swanger sou word met ‘n seun, Johannes (Luk. 1: 13). In die sesdemaand van Elisabet se swangerskap – dus in Desember - het Maria die belofte ontvang dat ook sy sou swanger word met ‘n Seun, Jesus (Lukas 1: 26, 31).
Met die 9 maande tydsduur van ‘n swangerskap dui dit dus op September as Jesus se
geboortemaand. Blaai ons verder deur Lukas, lees ons in 2: 8 dat skaapwagters
tydens Jesus se geboorte in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. Indien dit in Desember was, sou dit winter in Israel gewees het. Dit is ‘n koue tyd van die jaar wanneer geen herder normaalweg met skape buite in die veld sou wees nie – veral nie snags nie. Ook Matteus se verwysing na die Betlehem-ster in Matt.
2: 1, 2 word deur astronomiese bevindinge bevraagteken as sou die verskynsel in
Desember gewees het. Volgens hierdie navorsing is September baie meer waarskynlik as
maand waarin dié ster verskyn het. Gedurende September, nog redelik warm in
Israel, is dit ook meer aanvaarbaar vir skaapwagters en hul kudde om gedurende die nag buite in die veld te wees. Die mees logiese gevolgtrekking is dus dat Jesus waarskynlik in September gebore is.
 
Die oorsprong van 25 Desember as feesdag, is eintlik heidens. Dit was die dag waarop die Romeinse Ryk die afgod Mithra vereer het, bekend as die Fees van die Onoorwinlike Son om die oorwinning oor die duisternis te vier. Dit was eers in die jaar 336 na Christus dat keiser Konstantyn die Grote hierdie heidense fees vervang het met ‘n christelike fees in Rome – deur op 25 Desember die oorwinning oor die duisternis te vier met die koppeling aan die geboorte van Jesus as dié Een wat die finaal oorwin het.

 
Re: 'n Vraag oor Hemelvaartsdag en Kersdag???

Datum:2009-05-26 23:19:21

Ek kan nie 'n antwoord gee uit 'n geleerde oogpunt nie, maar ek wil graag skryf oor hoe ek in my hart hieroor voel.

As ek deur die Ou Testament kyk, dan sien ek dat die Here vir sy volk Israel verskeie feeste gegee het om deur die jaar sekere gebeurtenis te herdenk.
Voorbeelde van hierdie feeste is (verskoon die engels, ek wou net my feite reg kry):
-Passover
-Pentecost
-Trumpets
-Yom Kippur (Sabbath of Sabbaths)
-Atonement
-Tabernacles
Die gebruiklike instelling was ook dat tydens hierdie feeste, een van die dae as 'n addisionele sabbatdag gevier moet word (bykomend tot die tradisionele sewende dag as sabbatdag)
Israel kon dit uitgevoer het omdat die hele volk gehoorsaam aan die Here was en die leiers godvresende persone was (alhoewel hulle ook soms gestruikel het).

As ek nou dit in 'n Nuwe Testamentiese lig wil plaas, dan sal mens sien dat Christus die rede vir die bogenoemde feeste "volbring" het. Van die feeste herdenk gebeurtenisse wat met Israel gebeur het en dui op die koms van Christus aan. Die pasga is 'n sterk voorbeeld van dit.

Dit los dan die vraag van: Wat doen ons nou in die nuwe verbond waar ons die Nuwe Testamenties volk is? Ek glo die Here het die feeste vir sy volk gegee vir 'n rede en daarop wil ek voortbou. Watter dae is vir ons as Christene dan belangrike bakens? Watter gebeurtenisse definieer Christenskap?
Vir my staan die volgende uit:
-Die geboorte van Christus
-Die kruisiging
-Die opstanding
-Die Hemelvaart
-Pinksterdag

Ek sien dit as 'n uniek geleenthede waarop ons opnuut kan ontdek wat op daardie dae gebeur het. Dit is juis soos wat ds. Auckamp se dat ons die gebeurtenis herdenk, maar ons het wel 'n dag nodig waarop ons dit moet doen en 'n manier hoe om dit te doen. Daarom sal dit ideaal wees as ons hierdie dae soortsgelyk as sabbatdae kan vier.

Die dilemma wat ons mee sit is dat ons 'n regering het wat dit nie so wil erken nie, heeltemal anders as wat dit vir die volk Israel was. Ek voel rustig in myself dat ons dit tans nie so kan doen, veral as ek deur Markus 2:23-28 lees. Christel stel in vers 27 dat die Sabbatdag vir die mens gemaak en ek glo die Here het dit so beskik tot ons persoonlike groei.

Herdenking van hierdie dae sal dus addisionele geleentheid skep vir groei nader aan Hom. VYf dae in 'n jaar is eintlik min.

So as ek kan opsom oor hoe ek oortuig oor die saak:
-Ons is nie verplig om hierdie dae (Hemelvaart, Kersfees) as Sabbatdae te vier nie.
-Ek dink dit moet 'n saak wees van WIL dit doen en nie dit moet doen nie.
-Ek sien dit as 'n ideaal as ons hierdie dae as Sabbatdae kan vier, maar nie dit as 'n wet nie.

Willem