Vandag is die beplande nasionale taxi-staking. Wat alles daaruit gaan voortspruit, dit weet ons nie. Wanneer en waaroor die volgende staking ná vandag gaan wees – ook dit weet ons nie. Onsekerheid wek by baie mense vrees. Dalk raak dit jou vandag regstreeks, of dalk is daar ’n ander “taxi-staking” in jou lewe wat onsekerheid by jou wek. By ons Here bestaan die woord onsekerheid nie. Hy, die Alwetende, word eenvoudig nooit verras deur menslike optrede nie. Hy wat alles weet, weet hoe gebeure in jou jou lewe affekteer en hoe jy dit beleef en verwerk – ook onsekerheid. In Psalm 142 verwoord Dawid sy eie onsekerheid en vrees oor omstandighede buite sy beheer. Lees gerus hierdie kort Psalm. Uiteindelik vind Dawid sy krag en vrede in die wete dat ons Here in beheer bly en dat Hy weet hoe elkeen van sy kinders onsekerheid verwerk:
Neem vrymoedigheid om, net soos ’n Dawid van ouds, Hom te vertel van die “taxi-stakings” in jou lewe en hoe jy daaroor voel en vertrou Hom by wie daar geen onsekerheid is nie.
Die sogenaamde “Swart Maandag” het gemengde reaksie ontlont – sommige sien dit as rassisties en ander as versoenend. Die hartseer is egter dat moord in ons pragtige land ’n harde realiteit bly. As Christene vra ons vrae en worstel ons daaroor, maar helaas sonder om klinkklare antwoorde te kry. Israel van ouds het in ballingskap dieselfde geloofsworsteling beleef. Hulle het gebid, maar dit het gevoel asof God nie antwoord nie. Tog was Hy elke oomblik met hulle. In die woorde van Jesaja 40:27-29 bemoedig Hy Israel met die versekering dat Hy ten spyte van hul swaar en seer in beheer bly. Dalk vind jy ook troos in hierdie woorde:
Waarom sê jy ... waarom kla jy ... “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby?” Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk die wat nie meer kan nie.
Ons leef in ’n uiters kompeterende wêreld. Die houding vir oorlewing is: “Elkeen vir homself.” Pas op, dit is ’n doodloopstraat dié! Ons het mekaar nodig. In Galasiërs 6:2 word ons juis bemoedig om mekaar se laste te dra. In jou lewe is daar tye dat jy ander moet bystaan en daar is tye dat jy bygestaan moet word. Dit maak nie saak waar jy jouself bevind nie, Jesus nooi jou om jou laste vir Hom te gee, jy kan Hom daarmee vertrou:
Daar was die afgelope jaar verskriklike storms regoor die wêreld. Ons het veral gehoor van die orkane wat deur die Karibiese eilande, sowel as Sentraal- en Noord-Amerika geploeg het. Daar het selfs die afgelope week ’n tornado oor die Wes-Rand verwoesting gesaai.
Op verskeie tye in jou lewe, miskien selfs nou, gaan jy ook deur stormtydperke. Jesus se dissipels het hulleself ook in ’n hewige storm op see bevind. In Markus 4:35-41 lees ons ook van Jesus self en sy dissipel wat in die middel van ’n hewige storm op see was. Ons leer twee dinge uit hierdie verhaal: eerstens dat Jesus saam met jou in jou storm is en tweedens dat Hy die een is wat dit laat bedaar. Vertrou Hom want Hy is in beheer en soek jou vrede in Hom! In Amos 6:12 word ons met twee ongemaklike vrae gekonfronteer: Kan ’n perd oor ruwe rotsrante galop? Is dit moontlik om met ’n span osse die see om te ploeg? ’n Mens se aanvoeling is tog dat dit heeltemal onmoontlik is, dit grens aan absurditeit! Net so absurd, sê die Woord, is dit om te sê dat jy glo, maar jou dade spreek van die teendeel:
Die manier waarop ons as Christene lewe en teenoor ander mense optree, is uiters belangrik. Wys wat jy werklik glo .... en in Wie jy glo!
Ons leef in ’n tyd en plek waar mense baie besig is en dit veroorsaak moegheid op verskillende vlakke. Dalk is jy ook daar en voel dit vir jou of jou omstandighede jou oorweldig. In sulke tye is dit nodig om Jesaja se woorde ernstig op te neem:
Vertrou Jesus wanneer Hy almal wat moeg en oorlaai is, uitnooi om na Hom te kom, want Hy gee ware rus.
Maak seker dat jy op die regte dinge fokus, want in ons konteks is dit so maklik om geld en rykdom na te jaag. Luister wat die prediker vir ons sê:
In Matteus 6:19-21 leer Jesus ons dat daar waar jou skat is daar sal jou hart ook wees. Ons ware skat in hierdie lewe is ons verhouding met God. Hy is ons sekuriteit. Vertrou hom!
In 2 Tessalonisense 3:16 vind ons ’n treffende gebed met die woorde:
Hoor mooi, ons Here is die bron van ware vrede. Maak hierdie gebed, waar ons lewe in ’n wêreld vol onrus en onsekerheid, jou eie deur te bid:
Ons leef in ’n prestasiegedrewe samelewing. Jy moet presteer om gereken te word. Selfs ons kinders leef onder geweldige druk; jy moet presteer voordat mense van jou kennis neem en van jou hou. By ons Here is dit so anders. Hy sê:
Hy gee nie om wat jy bereik het, hoe blink jou persoonlikheid of hoe groot jou bankrekening is nie. Hy gee nie om of jy as ’n leier in die skool gereken word, of in die gemeenskap of by jou werk nie. Hy soek jou, soos jy is, met jou gebreke. Leef voluit vir HOM - wat ’n voorreg!
|
Argief
November 2017
|