Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is; die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie … Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe (Spreuke 4:18, 19, 23). In hierdie lewe is daar twee paaie. Die een is die pad van lig, lewe en vrede, die ander een ’n pad van donker, struikel en vrees. Jesus het juis gekom vir sondaars wat op die verkeerde pad loop om te sê Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13). Genesis 1:1 en 26-27
Die lewe het nog nooit oor jou gegaan nie - nooit ooit nie. God het die mens (dus ook vir jou) geskep om ’n voorstelling van Hom te wees. Die mens (ook jy) moet bydra tot die heerlikheid van God soos ’n kunswerk bydra tot die roem van die kunstenaar. God en sy wonderlike karakter moet die eerste wees waaraan iemand dink wat jou sien. Vandag is mense gemik op hulleself en hul eie roem en eer. Begryp dat die lewe oor ’n groter realiteit as jyself gaan en dat hierdie God sy eie Seun prysgegee het om in ’n lewende verhouding met jou te wees. Jy is vir Hom onsettend kosbaar. Ons Here Jesus het gesterf – dit is wat ons op ‘Goeie Vrydag’ in herinnering geroep het. Op ‘Paassondag’ het ons sy opstanding uit die dood gedenk. Verlede week het ons sy hemelvaart gevier. Nou staan ons voor ‘Pinkster’, die uitstorting van die Heilige Gees.
Beteken dit ons Here is dan nou weg? Het Hy nie voor sy hemelvaart beloof dat Hy altyd met ons sal wees nie en dat Hy ons nie wees hier op aarde gaan agterlaat nie? Het die Heilige Gees Hom as’t ware hier by ons vervang? Luister wat beloof ons Here ons in Johannes 14:16-18. Die Heilige Gees is die ander Trooster wat nie net by ons nie, maar in ons woon. As ander Trooster vervang Hy nie vir Jesus nie – nee, Hy kom by! Jesus bly steeds ons Trooster waar Hy in die hemel vir ons pleit. Ons het dus nou twee Troosters – Jesus wat in die hemel vir ons intree en die Heilige Gees wat ons hier op aarde in ons swakheid bystaan. Dit is die kragtige inhoud van Pinkster. Jy is nooit ooit alleen nie! • Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie (Lukas 23:34).
• Ek verseker jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees (Lukas 23:43). • Daar is u seun. Daar is jou moeder (Johannes 19:26, 27). • My God, My god, waarom het U My verlaat? (Matteus 27:47). • Ek is dors (Johannes 19:28). • Dit is volbring (Johannes 19:30). • Vader, in U hande gee Ek my gees oor (Lukas 23:46). Ek hoor vanaf ’n kruis woorde van vergifnis; ek hoor genade; ek hoor liefde en omgee; ek hoor helle angs; ek hoor swaarkry; ek hoor oorwinning en in die laaste kruiswoord hoor ek woorde van vrede ... Jesus gaan na sy Vaderhuis toe! Meer as dit, Hy berei deur sy sterwe ook vir jou en my die weg na ons Vaderhuis. Het Hy nie immers self belowe dat Hy vooruitgaan na die Vaderhuis om vir ons daarin woonplek te gaan voorberei nie? En wanneer daardie hemelwoning in gereedheid gebring is, dan kom Hy ons self haal (Johannes 14:1-4). Jesus se dood het aan jou en my dood ’n nuwe betekenis gegee: “Ons gaan huis toe!” Juis dit is wat ons in hierdie week van hemelvaart saam gedenk. |
Argief
November 2017
|