Meningspeilings in Tshwane dui daarop dat die ANC en die DA kop aan kop is in die aanloop tot die munisipale verkiesings. Verwagtinge is groot oor wie gaan wen, maar die uitslag is nie vir ons Here ’n verrassing nie, want Hy beskik uiteindelik oor wie regeer:
Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God (Romeine 13:1). Ons as Christene het ’n baie belangrike roeping in hoe ons reageer op die uitslag, want ook daarin moet ons sout en lig wees, selfs al het ons nie vir die triomferende party gestem nie. Die wêreld is soms ’n deurmekaarplek waar wrede dinge gebeur. Party mense sal enigiets doen om mag te verkry. Dink maar aan die onlangse aanvalle in Frankryk. Hierdie mense was selfs bereid om onskuldige mense se lewens te verwoes in hul pogings.
Jesus werk egter anders. Luister wat sê Hy aan sy dissipels: Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense (Matteus 20:25-28). By Jesus is ’n diensbare hart baie meer werd as mag en status. Hy wil juis hê dat ons Hom volg om die wêreld om ons met sy liefde en genade te bedien. Kyk bietjie rondom jou en let op hoe jy mense kan dien. God gebruik juis ons dienswerk om lewens te verander. |
Argief
November 2017
|