Dit gaan goed met dié wat onberispelik lewe, dié wat wandel volgens die woord van die Here ... Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan u woord! (Psalm 119:1 en 9).
Wat behels ’n sinvolle lewe? Mense wonder gedurig oor die sin van hul lewe. Psalm 119 sê ’n sinvolle lewe is een wat saam met God geleef word - dag vir dag en tree vir tree. In die gejaagde wêreld van vandag is dit ’n uitdaging en die enigste manier is om jou te hou aan God se Woord. Mag ek en jy vandag saam met die digter getuig: “Weerhou my van ’n nuttelose lewe, laat my leef op die weg wat U aanwys” (Psalm 119:37). Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou (Psalm 118:8). Sommige mense sê dat Psalm 118 die middelste hoofstuk van die Bybel is. Die eintlike vraag wat Psalm 118 na vore bring, is: Is God die middelpunt van jou lewe?
Baie mense verwerp Jesus as die hoeksteen, terwyl Hy eintlik die belangrikste plek in ons lewe behoort te neem. Hy is immers God se goeie nuus in elke deel van ons lewe. Wanneer jy raaksien dat God jou middelpunt is, kan jy rustig by Hom skuil eerder as om op mense te vertrou. En dit is die middelste vers van die Skrif. Psalm 117 is die kortste hoofstuk in die Bybel - dit bestaan net uit twee verse:
[1] Prys die Here, alle nasies, loof Hom alle volke, [2] want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here! Dit begin, in die ou Hebreeus met “Halleluja” en eindig ook weer daarmee. Die hele Psalm is met ander woorde in sy geheel ’n uitroep wat sê: “Halleluja, Prys die Here” want: · Sy liefde vir jou is sterk. Letterlik staan daar met groot nadruk: “geweldig” is sy liefde vir jou. Dit is eenvoudig onweerstaanbaar, daar is niks daarteen bestand nie, ja, dit is soos ’n tsunami wat oor jou spoel. Sy liefde vir ons sien ons in Jesus Christus: “geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38 ev). · Aan sy trou is daar geen einde nie. Teenoor die onbetroubaarheid van die mens, kan jy die Here volkome op sy Woord neem! Wat Hy sê en wat Hy beloof, staan vas. Glo Hom wat beloof dat Hy jou lief het en betroubaar is en loof en prys Hom vir sy goedheid! |
Argief
November 2017
|