Wat besit jy? Die wêreld meet rykdom aan dit wat jy besit. Lees hoe meet Jesus dit: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees (Matteus 6:19-21). Die vraag is nie wat jy besit nie, maar eerder wat besit jou: óf jou besittings besit jou óf God besit jou. As God jou besit, meet jy rykdom anders. Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Niemand hoef jou daarvan te oortuig dat ons in ’n stukkende wêreld leef nie. Dalk is jy vandag ernstig bekommerd oor die vraag of jy en jou geliefdes dit in die toekoms gaan maak. Die geweld, korrupsie en die dreigende resessie is genoeg om ’n mens moedeloos te laat voel. Luister wat sê ons Here vandag vir jou: ’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie … (Jesaja 42:3). In hierdie woorde lê die troos dat God eenmaal sy Seun in ons plek verwerp het, sodat ons mag lewe in die belofte dat Hy ons ook op hierdie moeilike pad nooit alleen sal los nie. Vertrou Hom daarin! Soms voel die Here net ver. Dit kan wees weens skuldgevoel, sonde, ’n besige lewe of swaarkry. Hierdie dinge is soos melaatsheid wat afstand bring en dan voel dit of God jou verwerp.
Luister egter wat doen Jesus: ’n Melaatse man kom kniel toe voor Hom en sê: ‘Here, as U wil kan U my gesond maak.’ Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: ‘Ek wil. Word gesond!’ (Matteus 8:2-3). Maak nie saak hoe ver verwyderd God vir jou voel nie, sy genade is ook vir jou net ’n aanraking ver. |
Argief
November 2017
|