Protesoptrede vir die #FeesMustFall-veldtog het ongelukkig oorgespoel tot geweld, vandalisme en intimidasie. Talle universiteite word erg ontwrig.
Emosies loop hoog na weerskante toe. Aan die een kant is daar dié wat sê dat geweld die antwoord is op die #FeesMustFall-veldtog. Aan die ander kant is daar dié wat kwaad is vir die geweldenaars en vandaliste. Wat albei groepe in gemeen het, is woede en wraak. Ook Christene word woedend. Dalk stoei jy ook met woede en wraakgedagtes aan die een kant, teenoor jou gewete wat jou aan die ander kant daaraan bly herinner dat “as julle kwaad word, moenie sondig nie …” (Efesiërs 4:26). Om regtig lig en sout vir Christus in hierdie omstandighede te wees, is baie moeilik. Ons bly egter daaraan gebind om anders as die wêreld op te tree in hierdie situasie. Daarom … “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie” (Romeine 12:17) en “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:21). So moeilik as wat dit dalk vir jou mag wees, maak hierdie ’n persoonlike uitdaging om God hierin te gehoorsaam en bid om sy krag hierin. Skielik is universiteitsonrus weer voorbladnuus. #Feesmustfall is op almal se lippe en plek-plek begin vuiste selfs swaai.
Aan die een kant is daar mense wat deur dié veldtog gratis hoër onderwys wil ontvang. Aan die ander kant is daar die realiteit van tersiêre opleiding wat peperduur is. Menslikerwys gesproke, bly die bekommernis oor waar hierdie twee partye mekaar gaan vind. Tog ironies dat die grootste skat dikwels misgekyk word. Ons hoef nie te toi-toi of te baklei vir Jesus se redding nie, dit kom juis gratis uit die oorvloed van God se liefde. Omhels hierdie gratis geskenk van redding wat jy sonder verdienste ontvang het en deel jou dankbaarheid met diegene rondom jou want: … julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet (Matteus 10:8). Vry om te dienJesus het gesê dat hy nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as betaling van sondes te gee (Markus 10:45). So het Jesus by geleentheid dit gedemonstreer deur sy dissipels se voete te was. Dit het hulle stomgeslaan, omdat mens dit destyds nie eens van jou slaaf kon verwag nie. Jesus het daarop gereageer met die opdrag: “Ek het vir julle ʼn voorbeeld gestel, en soos ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Johannes 13:15).
Uit Jesus se voorbeeld het hy vir ons gewys dat dien ʼn werkwoord sonder die verwagting van vergoeding of aansien is. Die grootste bewys daarvan is dat Hy sy lewe ook vir jou afgelê het deur naak en verwerplik aan ʼn vervloekte kruis te sterf (Jesaja 53:2, 3). Dalk is dit nodig om in die prestasiegedrewe samelewing van vandag opnuut te besef dat ons deur Christus geroep en vrygemaak is om mekaar in liefde te dien. Gee van jouself sonder die verwagting van vergoeding of aansien: Om te gee maak ʼn mens gelukkiger as om te ontvang (Handelinge 20:35). |
Argief
November 2017
|