Die datum 31 Oktober word op ons Christelike jaarkalender aangedui as “Hervormingsdag”. Dit neem ons terug in die geskiedenis na 1517 toe Martin Luther sy 95 stellings van die waarheid uit Gods Woord teenoor die dwalinge van die destydse Rooms-Katolieke Kerk aan die houtdeur van die slotkapel by Wittenberg gespyker het.
“Terug na die Woord van God” (Johannes 17:17) is waaraan ons die heeltyd herinner word. Die Reformasie is egter nie bloot ’n gebeurtenis uit die verlede waaraan ons as Christene in hierdie tyd terugdink nie. Ware Reformasie is ’n aktiewe werkwoord wat elkeen van ons elke oomblik raak! In Efesiërs 4:1 word ons daartoe opgeroep dat ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees met die roeping wat ons van God ontvang het. Ons is Christene ... laat ons elke oomblik onder alle omstandighede oral die naam “Christen” waardig wees deur te leef soos ons Here Christus dit van ons verwag. Ons het die waarheid van die Woord van God ... laat dit die lig wees op ons pad (Psalm 119:105). Net ’n kwart van die Vaaldam is tans vol water; waterbeperkings is ’n realiteit en sommige dorpe het glad geen water nie. Dié droogte is een van die ergstes in dekades in Suid-Afrika.
’n Droogte is een van die uitmergelendste vorms van swaarkry. Dit het ’n depressiewe uitwerking op die hele gemeenskap. Begin jy ook al hoe meer bekommerd en desperaat raak soos wat jy wag op uitkoms? Ons weet almal dat ons land nie nog so ’n droë jaar kan hanteer nie. Daarom kan ons nie genoeg bid dat ons Here vir ons uitkoms gee nie. Nog erger as die werklikheid van ons land se droogte, is ’n geestelike droogte, ’n lewe sonder God: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God” (Psalm 42:2 en 3). Met hierdie woorde herinner die Psalmdigter ons elkeen daaraan om bo alles te smag na die lewende God. Jesus sê: “As iemand dors het, laat hy na my toe kom en drink” (Johannes 7:37). Sien in die droogte jou geestelike nood raak en laat Jesus hierdie dors les! Die Jakarandas het begin blom. Vir Pretoria-studente is dit ‘n teken van die aanbreek van eindeksamen-tyd. Die vraag op almal se lippe is egter of studente aan die einde van die jaar nog eksamens gaan skryf.
Jesus ken die kommer in ons hart, en Hy het dit aangespreek. Lees gerus Matteus 6:25-34 waar Hy ons oproep om ons nie te bekommer oor môre en oormôre nie. Hier gee Hy die teken van eenvoudige veldlelies as versekering van Sy versorging. As Hy sorgsaam na ‘n eenvoudige blommetjie kyk: “…hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie…” (Mtt6:30). Hier in Pretoria kan ons die Jakarandas sien as herinneringsteken van God se versorging. Hulle blom in hulle tradisionele pers prag. Hulle versier die andersins vaal strate met koninklike kleur. Mag dit jou telkens daaraan herinner: Midde in die onsekerheid van vandag leef ons met die sekere belofte dat ons veilig is in Sy hande en dat Hy vir ons sorg. Wees stil en berus in Hom en kyk met nuwe oë na die prag van die Jakaranda. “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matteus 11:28). Dit is die 24/7 uitnodiging van Iemand wat jy ten volle op sy woord kan neem. Dit is ‘n noodlyn wat nooit beset of onbeantwoord is nie. In ‘n wêreld vol onrus, vind jou rus in ons Here! |
Argief
November 2017
|