Dawid leef vanuit die belydenis dat dit God self is wat alles in sy lewe vir hom ‘voleindig’ (Psalm 57:3, Ou Afrikaanse Vertaling). Hy glo dus vas dat God hom alles ten goede sal laat meewerk, selfs al verstaan hy nie altyd die weë van ons Here nie (Romeine 8:28). Dít is waaraan ons ook elke dag moet vashou.
As ons nou so aan die einde van die jaar terugkyk op 2015, kan ons ook nie anders nie as om saam met ’n Dawid van ouds te moet erken dat daar geleenthede was warop ons moes uitroep: “Wees my genadig, o God! Wees my genadig” (Psalm 57:2), maar dat daar ook tye was dat ons uitgejubel het: Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing (Psalm 57:8). Nooit was jy alleen nie, selfs al het dit dalk by tye so gevoel. Die jaar 2016 lê voor ons. Hou vas aan die belofte dat jou Voleinder met jou ’n pad gaan stap waarin jy met sekerheid kan weet dat alles jou ten goede gaan meewerk, selfs al mag dit ’n pad wees wat jy nie verstaan nie. Vertrou Hom! Mag hierdie Kerstyd vir jou werklik ’n Christus-fees wees ... Elkeen van ons ken seerkry en moeilike omstandighede en uit daardie plek van seer het ons baie keer vrae - vrae soos: Hoekom kan dit nie net goed gaan met my of die mense naby aan my nie?
God kom wys ons in Psalm 73 die ware betekenis van wat voorspoed is, maar nog meer as dit, Hy kom wys ons waar ons troos en vashouplek is in tye van seer en nood (Psalm 73:23): Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. In ons tye van seer en nood los God nie sy kinders alleen nie. Ons het ’n Vader wat ons vashou, ’n Vader wat ons deur die lewe dra. Dit is die boodskap van troos en bemoediging in tye van seer. En met daardie troos kan ons vir die wêreld vertel: Dit is vir my goed om naby God te wees! Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ek help jou (Jesaja 41:13). “Wie kan ons voor die regter daag?
Gods uitverkore kind verklaag? Waar is die mond wat durf verdoem as God sy kind regverdig noem? Dis Christus wat die skuld wou dra, die dood vir ons gesterf het, ja, wat opgewek in glorie sit en altyddeur vir ons wil bid. Wie sal ons, van die skuldstraf vry, van Christus en sy liefde skei? Verdrukking of vervolgingsnag? Benoudheid wat ons hier nog wag? Geen skepsel in die skepping wyd, geen ding in tyd of ewigheid – niks kan ons van Gods liefde skei wat ewig-vas in Christus bly” (Sk 5-4:1,2,3,6) |
Argief
November 2017
|