Ouderling: Willem Daling
Ons glo dat 'n gawe-gedrewe bediening uiters belangrik is vir die liggaam van Christus om goed te funksioneer en te groei. Daarom het ons verskeie geleenthede waar lidmate toegerus kan word vir hulle bediening. Die Toerusting Bedieningspan is verantwoordelik vir die reël van hierdie geleenthede.
Leer & Lewe
Die Leer- & lewediensgroep is ‘n nuwe diensgroep wat help om toerustingsgeleenthede te reël waar lidmate toegerus kan word om die waarhede van ons geloof in hulle lewe toe te pas en uit te leef. Die Kopskuif geleenthede van Maandae aande en die Hartklop Bybelskool wat kwartaalliks aangebied word val onder hierdie diensgroep. Daar word ook beplan om Lyfskuif geleenthede te reël waar ons bietjie uit ons gemaksones geneem word om saam te groei.
Diensgroepleier: Linda Oberholzer
Groeigroep
Die diensgroep het ten doel om die groeigroepe in die gemeente te ondersteun en toe te rus. Ondersteuning behels die organisasie en bekendstelling van Groeigroepe aan die gemeente en aan nuwe intrekkers, asook die beskikbaarstelling van Bybelstudiemateriaal vir gebruik in Groeigroepbyeenkomste. Toerusting vind plaas d.m.v. opleiding vir die Groeigroepleiers en gereelde Groeigroepleierbyeenkomste saam met die ouderling.
Diensgroepleier: Ansuri Welman
Ratio Christi
Ratio Christi beteken ‘die rede vir Christus.’ Hier skep ons ’n platform om te gesels oor die groot vrae van die lewe rakende God, wêreldbeskouings, wetenskap, geskiedenis, filosofie en die kultuur. Ons hoofdoel is om studente toe te rus om meer effektiewe evangeliste te wees en altyd gereed te wees om ’n antwoord te gee, nie net oor wat ons glo nie, maar ook hoekom ons dit glo.