Het jy ook al gewonder waarom Jesus ons leer om ons gebede te begin met Ons Vader wat in die Hemel is? Aan die een kant het ons die vrymoedigheid om Hom aan te spreek as “Abba” (Pa, Vader, Pappa). Dit is wie Hy regtig vir jou is. Jy is die een wat vir Hom kosbaar is, vir wie Hy sorg en vir wie Hy beskerm. Ons Vader wat elke oomblik met ons is, is egter ook die Here van alles en almal:
Leef in hierdie kosbare verhouding met Hom. Ons Vader is die Koning van die heelal.
Waaroor het jy vandag met ons Here gepraat?
As gelowiges het ons die voorreg om vir mekaar te bid, in goeie en veral swaar tye. Besef jy dat daar ook vanuit die hemel vir jou gebid word? Jesus (Lukas 22:32 en Johannes 17) en die Heilige Gees bid vir jou: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Romeine 8:26). Praat met vrymoedigheid oor alles in jou hart met ons Here. Laat dit vir jou ’n bron van krag en bemoediging wees dat daar vanuit die hemel vir jou gebid word. Die afgelope naweek het derduisende mense saam tot God gebid. Daar was ook baie mense wat hierdie oproep by hul huise opgevolg het. Dit laat mens opnuut besef dat God alleen die Almagtige is en dat ons totaal afhanklik van Hom is.
Erken jy hierdie realiteit ook in jou persoonlike lewe? God roep jou om ook vanuit hierdie waarheid te lewe. Niks is vir God onmoontlik nie (Lukas 1:37). Het jy gesien dat die Paaseiers en hot cross buns op uitverkoping is in die winkels? Vir die wêreld is die Paasfees iets van die verlede - tot volgende jaar. Ons as Christene bevind ons nou tussen Paasfees en Hemelvaart. Vir ons is die krag daarvan elke dag ’n realiteit. Luister wat skryf Paulus:
Besef jy met watter krag God in jou werk!
Het jy al gehoor van ’n interrobang? Dis die eerste leesteken in eeue wat by Engels as taal gevoeg is. Luister wat sê Douglas Witherop in sy boek Interrobang Preaching:
Witherop sê verder dat Jesus tegelyk klaarheid én misterie is. Hy is die vraag sowel as die antwoord. Hy is die ontdekking, sowel as die rigtingwyser na die ontdekking. Jesus vul jou met lewensasem en terselfdertyd slaan hy jou asem weg.
As ons Jesus ontdek, neem Hy ons op die reis van ’n leeftyd (2 Korintiërs 2:14-16)! Jesus Christus skenk aan elkeen wat Hom volg genadegawes. Die doel daarvan is om elkeen toe te rus vir die dienswerk wat gedoen moet word (Efesiërs 4:11-13). In 1 Korintiërs 12:4-7 staan daar:
Moet nie hierdie geskenk uit God se hand mors nie. Gebruik dit in opdrag van die Here om ander te dien én jy sal die kragtige werkinge van God in jou lewe ervaar!
Dalk voel jy ook nou ver van God? Ook Christene raak maklik moedeloos omdat ons in ons huidige situasie vaskyk. Ons sien nie God se volle prentjie vir ons lewe nie. Luister na Paulus se woorde aan Timoteus: Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het weer moet aanblaas (2 Timoteus 1:6). Hoe kry ons dit reg om die vuur in ons weer aan te blaas? Staan ’n oomblik terug en kom opnuut onder die indruk van die evangelie van hoop en God se diepgewortelde genade in jou lewe. Soos wat jy nou hierdie stukkie lees, is jý die Godgestuurde daar waar jy is. Besef jy dit? Dit is nie nog ’n lysie van iets wat jy moet doen of iets waaroor jy skuldig moet voel nie, maar dis iets wat jy reeds is (Johannes 20:21).
Jy is moontlik die enigste “Bybel” wat jou kollegas lees. Hou daaraan vas dat die genadegawes wat God aan jou gee genoeg is vir waar jy nou is as gestuurde (Romeine 11:29). Dankie Here vir die gawes en geleentheid wat U my skenk om U gestuurde hier te wees. “The way you follow determines the way you lead,”word gesê.
In Matteus 28 vind ons die groot opdrag om dissipels te maak. Om dit reg te kry moet jy self eers ’n dissipel wees. Die wêreld maak baie van leierskap terwyl Jesus ’n groter klem sit op volgerskap: Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ’n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: “Volg my!” (Matteus 9:9) Jy moet Jesus eers self volg om sy instrument te wees om volgelinge te maak. Volg hom! Het jy onlangs ’n sonsopkoms gesien? Die skoonheid en prag van ’n nuwe dag is ’n merkwaardige geskenk wat ons elke oggend kan geniet.
Dit laat ons telkens besef dat God die gewer is van alles wat mooi is: Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is (Prediker 2:24). Besef jy dat bo en behalwe die dinge wat Hy vir ons in hierdie lewe gee om ons te versorg, Hy ook liefde, verhoudings, geloof en bo alles die geskenk van Christus gee. Sien raak, waardeer, beleef en wees dankbaar vir wat God vir jou gee: So ’n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee (Prediker 5:19). |
Argief
November 2017
|