Dalk word jy ook soms so vasgevang in die rat race dat jy van God vergeet. Hy vergeet nooit van jou nie. Sonder dat jy dit besef, is Hy elke oomblik besig om vir jou te bid, besig om jou te beskerm en besig om met jou te praat.
Ons elkeen het tyd nodig om waarlik te luister en te praat. Jesaja gebruik ’n mooi beeld om God se betrokkenheid in jou lewe te beskryf: Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het (Jesaja 55: 10 en 11). Lê jou dus daarop toe om opreg te luister na wat die Gees vir jou sê (Openbaring 3:6). Daar gebeur dikwels dinge wat ons heeltemal onkant vang en ons fokus so maklik op wat hier en nou verkeerd gaan. Trump het die wêreld onkant gevang ... om nie eens te praat van ons eie politiek nie.
Spanning is juis die teenoorgestelde van vertroue ... Israel van ouds leer ons om in sulke onsekere tye altyd terug te kyk om vorentoe te beweeg. Hulle het telkens wanneer hulle terugkyk God se reddingsdade raakgesien om moed te skep vir die pad vorentoe. Moenie in spanning en onsekerheid lewe nie. Kyk terug! Kyk na hoe God in jou eie lewe jou deur moeilike omstandighede gelei het. Kyk egter nog verder terug en sien die kruis raak. Weet verseker dat jou lewe nie ’n alleenpad is nie: Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie … Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here … Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Psalm 37:1-5). Ons is totaal afhanklik van ons Here.
Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is (Jesaja 55:6). Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe (Jesaja 55:2). Jesus het in alles na die Vader se wil gesoek. Hy het gesê: Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied! (Lukas 22:42). Laat jou dagboek daarom, in die kleine, ook ’n weerspieëling wees van God se wil (Deo Volente). Jou dagboek is waarskynlik reeds vooruit beplan. Jy het teikendatums vir 2017 gestel. Daar is heelwat dinge wat moet gebeur. Al hierdie datums en tye is waarskynlik versigtig in oorleg met die betrokkenes bepaal.
Pasop vir ’n te rigiede dagboek, waarsku Jakobus (4:13-16): Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” Maar nou is julle te seker van julleself … Deo Volente (DV) – As die Here wil … Ons is heeltemal afhanklik van Hom en daarom kan ons ook nie anders nie as om te sê: “Ons gaan DV dit of dat doen.” Laat elke dagboekinskrywing jou daaraan herinner dat God se wil groter is as jou eie... Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Korintiërs 10:31). Vanuit die tronk skryf Paulus aan die gemeente in Filippi: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby” (Filippense 4:4 en 5).
Die een wat sy vreugde in Jesus Christus vind en begryp dat God naby is, is ’n vriendelike mens. So iemand laat nie toe dat die omstandighede van die tyd hierdie vrug van die Gees aantas nie. Moet nie toelaat dat die gebeure in ons samelewing jou lei om ongeskik te wees met of teenoor ander nie. Moet nie dat dit jou vreugde steel nie, want dit verander nie Jesus se teenwoordigheid in jou lewe nie. Die gordyn tussen die ewigheid en die huidige tyd word vir Johannes oopgemaak in Openbaring. Die Gees lei hom om ’n skrefie van die toekoms te sien. Wat Johannes sien, is die hele skepping wat God aanbid. Elke knie is gebuig en elke mond getuig dat Jesus Christus die koning is (Filippense 2:9-11). Dit is meer as net troos, dit is ’n vaste verwagting van waarheen die heelal op pad is. Sien jy ook met jou hele wese uit daarna? Sien jy ook uit om God se volle teenwoordigheid te ervaar. Omdat ons weet wat op pad is, kan ons nou met ’n lied in ons hart leef: Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid” (Openbaring 5:13). Ons damme is leeg, ons politiek is deurmekaar, ons strate brand en ons studente is moedeloos. Die vraag waarmee ons worstel, is: hoe ver nog? Dit wat jy oor die toekoms glo, bepaal hoe jy vandag reageer. Glo wat God sê oor die toekoms. Sien raak dat daar ’n groter realiteit is as die chaos van nou. Alles draai om geloofsperspektief: Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan ... Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil (2 Korintiërs 5:1 en 9). Al is dit vir jou ook moeilik, leef hierdie geloofsperspektief uit! Die datum 31 Oktober word op ons Christelike jaarkalender aangedui as “Hervormingsdag”. Dit neem ons terug in die geskiedenis na 1517 toe Martin Luther sy 95 stellings van die waarheid uit Gods Woord teenoor die dwalinge van die destydse Rooms-Katolieke Kerk aan die houtdeur van die slotkapel by Wittenberg gespyker het.
“Terug na die Woord van God” (Johannes 17:17) is waaraan ons die heeltyd herinner word. Die Reformasie is egter nie bloot ’n gebeurtenis uit die verlede waaraan ons as Christene in hierdie tyd terugdink nie. Ware Reformasie is ’n aktiewe werkwoord wat elkeen van ons elke oomblik raak! In Efesiërs 4:1 word ons daartoe opgeroep dat ons lewenswandel in ooreenstemming moet wees met die roeping wat ons van God ontvang het. Ons is Christene ... laat ons elke oomblik onder alle omstandighede oral die naam “Christen” waardig wees deur te leef soos ons Here Christus dit van ons verwag. Ons het die waarheid van die Woord van God ... laat dit die lig wees op ons pad (Psalm 119:105). Net ’n kwart van die Vaaldam is tans vol water; waterbeperkings is ’n realiteit en sommige dorpe het glad geen water nie. Dié droogte is een van die ergstes in dekades in Suid-Afrika.
’n Droogte is een van die uitmergelendste vorms van swaarkry. Dit het ’n depressiewe uitwerking op die hele gemeenskap. Begin jy ook al hoe meer bekommerd en desperaat raak soos wat jy wag op uitkoms? Ons weet almal dat ons land nie nog so ’n droë jaar kan hanteer nie. Daarom kan ons nie genoeg bid dat ons Here vir ons uitkoms gee nie. Nog erger as die werklikheid van ons land se droogte, is ’n geestelike droogte, ’n lewe sonder God: “Soos ’n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God” (Psalm 42:2 en 3). Met hierdie woorde herinner die Psalmdigter ons elkeen daaraan om bo alles te smag na die lewende God. Jesus sê: “As iemand dors het, laat hy na my toe kom en drink” (Johannes 7:37). Sien in die droogte jou geestelike nood raak en laat Jesus hierdie dors les! |
Argief
November 2017
|