Sarel van der Merwe - Skuil as kleintjie in God se Vadersorg sodat u ander roep om sy koninkryk...24/4/2016
Sarel van der Merwe - Skuil as kleintjie in God se Vadersorg sodat u ander roep om sy koninkryk...
Is u een van dié kleintjies wat die Vader met soveel liefde versorg dat u getuig van sy koninkryk, of is u nie ’n kleintjie nie? Dit is so eg menslik om groot en onafhanklik te wil wees en te dink dat u iets by God verdien. Dan verloor u sy Vaderlike sorg vir ’n kleintjie, onttrek u uself aan sy beskerming, en bedroef die Heilige Gees wat u juis wil leer om kinderlik afhanklik van God te leef, u wil leer van sondebelydenis, vergiffenis en ’n nuwe lewe om sy naam bekend te maak. Wanneer Jesus sy dissipels leer wie die belangrikste in die koninkryk van God is, trek Hy ’n kindjie nader en sê dat elkeen moet verander en soos ’n kindjie word wat God se liefde onvoorwaardelik aanvaar, Hom liefhet en volledig vertrou. Wie so lewe, leef in sy verbond en sal die liefdevolle versorging van God elke dag ervaar. Juis by die doop, waar ons die teken van inlywing in God se verbond bedien, aanvaar u die verantwoordelikheid om ’n kleintjie in sy Koninkryk te wees sodat u ’n kleintjie kan onderrig om in die Goddelike sorg te skuil. Wanneer u soos ’n kindjie die koninkryk wat Hy vir u in Christus berei het, aanvaar, weet dan dat Hy u bewaar. Daarom die waarskuwing oor die struikelblokke. Moenie ’n kleintjie laat struikel deur u voorbeeld nie. Dit is beter om in die see te verdrink as om ’n medegelowige te laat struikel, of ’n ongelowige te verhinder om te glo. U voorbeeld en opvoeding van u kind moet so wees dat sy weet u is klein voor God en by Hom wil skuil. Leef kinderlik afhanklik van God, en sy sorgsame liefde sal u sorgsaamheid leer, liefde vir u kinders, ouers, medegelowiges en ongelowiges. As u struikel en in sonde val, weet die Vader sal u opsoek. Gebruik die geleentheid om u kind te leer hoe om op te staan, terug te gaan, sonde te bely en opnuut u te verheug in die werk van Jesus Christus. Wanneer u so leef, roep u ook almal om u tot geloof in hierdie liefdevolle versorgende God wat omgee vir al die kleintjies. http://youtu.be/LfPzNB0xFUE
0 Comments
Leave a Reply. |
Argief
October 2024
KATEGORIE |